Sport

‘n Groot deel van ons bestaan gaan oor die invloed wat jy op ander se lewenspad kan uitoefen. Ons glo dat hoe meer ons ons lewens en loopbane met mekaar deel, wat goeie en moeilike tye insluit, dit geleenthede bied om mekaar positief te beïnvloed. Sodoende kan God ons al meer gebruik om ‘n verskil in mekaar se lewens te maak.

Soos ons sportikoon en oudleerder, Frankie Horne, sê: “One cannot be successful without the backing of our loved ones, team mates and team structures.”

Enige sportwedstryd of kompetisie kan vergelyk word met die reis van die lewe waar jy fisies, emosioneel en geestelik gereed moet wees. Daarom is die woord entoesiasme nog altyd baie spesiaal, want dit is ontleen aan die Griekse woord entheos wat “In God” beteken. Elke ouer, leerder en afrigter berei hulle pad voor met die nodige entoesiasme om ‘n positiewe verskil te maak in mekaar se lewens op die sportveld.

Rugby
Hugenote Hoërskool handhaaf ‘n baie hoë standaard in ons rugbyafrigting en spel. Vanaf 2026 is Louis Schreuder die rugbydirekteur by Hugenote Hoërskool. Die voormalige WP-, Stormers-, Sharks- en Springbok-skrumskakel het ook ‘n internasionale loopbaan in Japan, Frankryk en Engeland gehad. Hy verteenwoordig tans die Boland Kavaliers. As eerstespanafrigter word Louis deur mnre. Nico Burger, Pieter Louw (voormalige Stormers en WP losvoorspeler) en Dewald Gebbing bygestaan. Mnr. Lance Sendin, voormalige SA-skole en eerstespanrugbyafrigter, is verantwoordelik vir die ontwikkeling van ons junior rugbystrukture.

Hugenote Hoërskool spog met verskeie Springbok- en professionele rugbyspelers soos Vincent Koch (tweemalige wêreldbekerwenner), Juan de Jongh, Frankie Horne (voormalige Blitsbokkaptein), Godlen Masimla en Gideon Koegelenberg.

Vanaf 2026 neem Hugenote Hoërskool se o.19 A- & B-rugby-spanne aan die welbekende Noord-Suid-rugbytoernooi deel, terwyl die o.14, o.15 & o.16 A-spanne aan ‘n uitgebreide afdeling van die Paarl Gim-rugbytoernooi deelneem. Ons spanne neem ook op tuisbodem aan die Summer Sport Festival deel. Sewesrugby is ook in ons bloed – ons neem aan ons eie Cape Schools Sevens-toernooi deel, asook die Marius Schoeman Sewestoernooi. Twee van ons sewespelers is in 2025 in onderskeidelik die Boland A- en B-spanne opgeneem.

Netbal
Hugenote beskik oor ‘n goed gekwalifiseerde afrigterkorps onder wie daar NSA Vlak 1- & 2-afrigters is. Ons afrigters vorm ook deel van provinsiale en distrikspanne. Die o.19 A-span word in 2025 en 2026 deur me. Elizmé Burger afgerig in samewerking met ons vaardigheidsafrigter me. Sanet Joubert wat ook as die algehele vaardigheidsafrigter optree. Ons spelers kry die geleentheid om aan streeks- en provinsiale toernooie deel te neem en ons is trots om gereeld Wes-Kaap- en Kaapse Wynland-spelers op te lewer. Ons toer graag! Ons o.19 A-span neem aan La Rochelle Festival deel waar hulle teen sterk kompetisie meeding. Ons o.14 A- & B-, o.15 A- & B-, o.16 A- & B-, o.17 A- & B- & o.19 B-spanne neem aan die Paarl Gim-Netbalfees deel. Ons poog ook om in 2026 ons C-, D-, E-, en F-spanne te laat deelneem aan ‘n toernooi in April. Dit is vir ons belangrik om diepte te kweek en al ons spanne die geleentheid te bied om aan toernooie deel te neem.Ons neem ook aan verskeie Fast Five-toernooie in September deel. Hugenote spog met 24 netbalspanne en glo daaraan om elke dogter die geleentheid te bied om haar talent te ontwikkel. Klinieke word deur ons afrigterskorps aangebied om fynere vaardighede te ontwikkel. Ons stel ook ons afrigters bloot aan kursusse wat deur bekende persone soos Elize Kotze en Elsje Jordaan aangebied word. Ons glo aan harde werk, holistiese afrigtingsmetodes en om goeie spandinamika te kweek onder afrigters en spelers.

Seunshokkie
Hugenote se seunshokkiespanne vaar baie goed in hul onderskeie ligas. Al die spanne woon kursusse/toernooie gedurende die jaar by. Talle van ons spelers wat in Bolandspanne opgeneem word, getuig van entoesiastiese en kundige afrigters wat sorg dat spelers op ‘n hoë vlak kan meeding.

Dogtershokkie
Ons visie vir hokkie is om met behulp van spesialisafrigters elke dogter holisties te ontwikkel om kompeterend en passievol op verskillende vlakke te kan deelneem. Ons het ses dogtershokkiespanne en jaarliks word daar spelers gekies vir verskeie Bolandspanne. Ons fasiliteite sluit in die Astro en twee grasvelde. Jaarliks word daar aan ‘n verskeidenheid toere/toernooie deelgeneem. Hugenote beskik oor ‘n goed gekwalifiseerde afrigterskorps, waar onder wie ons o.18-afrigter, me. Jeanri Mariano, onderskeidelik vir die WP- en SACD A- spanne uitgedraf het.

Krieket
Hugenote het vier krieketspanne. Hugenote se krieketspanne vaar baie goed in hulle onderskeie ligas. Garreth Wolmarans dien as die hoof van krieketafrigting en -ontwikkeling. Hy het tot onlangs klubkrieket in Skotland en Australië gespeel en afgerig. In 2025 bring ons ook ons eie interne krieketkompetisie, die Blackie Smash, met groot sukses op die been.

Tennis
Ons tennisspelers word deur HEAT Academy afgerig. Wedstryde vind Maandae plaas. Spelers word gereeld geëvalueer, op ‘n ranglys geplaas en daarvolgens in spanne opgeneem. Ons neem aan verskeie toernooie deur die jaar deel. Ons lewer elke jaar ‘n paar provinsiale spelers op. In 2023 is ons tennisbane volledig oorgedoen met die toevoeging van ‘n ekstra baan vir speel- en oefendoeleindes.

Atletiek
Hugenote Hoërskool is ‘n top-atletiekskool en lewer jaarliks atlete wat aan die Nasionale atletiekbyeenkoms deelneem. Vanaf 2026 sluit me. Janke Oosthuizen by ons aan om ons holistiese atletiekprogram na ‘n nuwe vlak van uitnemendheid te neem. Sy het haarself in atletiek onderskei as ‘n Wes-Kaap Skole Diskus- & Gewigstootkampioen, en het ook in 2019 nasionaal onder die top 5 by ASA in die diskusitem geëindig. Our high standards are attributed to quality coaching and dedicated athletes. The coaches regularly attend courses and seminars to keep up with the latest techniques and trends, thereby providing the best possible opportunities for Huguenot’s athletes.

Chess
Huguenot’s chess team competes against other schools on a weekly basis. Some of our players also represent Boland regularly. During 2024, two of our learners represented South Africa at the African Youth Championship.

Tweekamp
Tweekamp is ‘n snelgroeiende sportsoort by Hugenote en het bekwame afrigters wat ons kinders voorberei. Ons lewer jaarliks verskeie provinsiale atlete op en kan dikwels met Boland en Suid-Afrikaanse kampioene in hierdie sportsoort spog. Hugenote wen ook in 2025 die Boland Hoërskole trofee vir die skool wat die meeste punte tydens die seisoen bymekaar gemaak het.

Swem
Ons neem aan verskeie galas in die Boland-streek gedurende die eerste en vierde kwartale deel. Dit sluit onder andere interskole teen Swartland, ‘n 6-hoekige gala, Frank Myburgh Twilight-gala, sowel as ander kleiner en aflosgalas in. Hugenote beskik oor ‘n 25m swembad met vyf bane en professionele afrigting word behartig deur mnr. Etienne van der Merwe. Daar is jaarliks swemmers wat kwalifiseer vir wimpels, halfkleure en erekleure vanweë hul deelname en prestasie by streek- en nasionale galas.

Bergfiets
Vanaf 2025 is Bergfiets amptelik by ons lys van sportsoorte gevoeg. ‘n Nuwe bergfietsbaan is in 2025 op die skoolterrein gebou. Huidige en voornemende bergfietsryers kan uitsien na individuele aandag m.b.t. die korrekte opstel van die fietse, kwaliteitafrigting (insluitend o.a. eetplanne en ontleding van fiksheidsdata) en deelname aan verskeie bergfietsbyeenkomste.